Kontroleer, Toets en Toets nog ‘n Keer
(Onderskeiding 4)
 

Hierdie is ‘n beginsel wat toepassing vind op die meeste gebiede van die lewe. Skrynwerkers sê dat ‘n mens twee keer moet meet en net een keer moet saag. Ons leer ons kinders dat hulle eers regs, dan links en weer regs moet kyk voordat hulle die straat oorsteek. Wanneer dit by ons geloof kom, moet ons selfs nog meer versigtig wees en alles nagaan en toets wat ons hoor.

1 Tess 5:21 (OAV) sê: “Beproef alle dinge; behou die goeie”. Met ander woorde, nie alles is goed en betroubaar nie, alles moet eers getoets word. Die edelmoedige mense van Berea het selfs Paulus se leringe en mededelings aan die hand van die Skrif ondersoek en hulle het daarvoor erkenning ontvang (Hand 17:11).

Ons lewe in ‘n gevaarlike tyd en die wêreld rondom ons is vol bedrieërs, valse profete, wolwe in skaapsklere en ketters. Diegene wat die Waarheid verkondig is in die minderheid terwyl die valse profete massiewe begrotings het waarmee hulle elke denkbare vorm van die media oorheers. Maak nie saak of jy na die sogenaamde “Christen” radio stasies luister, “Christen” TV kyk, “Christen” webtuistes besoek of ‘n “Christelike” boekwinkel binnestap nie, die kanse is baie goed dat jy nie aan die waarheid blootgestel sal word nie. Tog is daar duisende wat daagliks mislei word om dit te glo wat onder die naam van “Christen” aan hulle verkoop word.

Dit is dus van die uiterste belang dat ons elke woord wat ons hoor of lees, versigtig moet nagaan. Maar hoe doen ons dit? Hier is ‘n paar rigtingwysers:

Eerstens, gee gehoor aan die stem van die Gees: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Joh 16:13). “[jy sal] agter jou ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs’” (Jes 30:21). Laat ek dit egter baie duidelik stel: Jy kan nie ‘n boodskap of ‘n persoon oordeel op grond van daardie stemmetjie in jou binneste nie. Maar as jy luister na die influistering van die Gees van God, sal jy dikwels ongemaklik voel oor iets. Dit beteken eenvoudig dat jy nodig het om te stop en dit na te gaan. Aan die ander kant beteken ‘n goeie gevoel omtrent ‘n persoon of sy lering nie dat dit reg is nie. Jy moet dit steeds toets. Ek kry feitlik weekliks e-posse van mense wat dinge bevraagteken omdat dit “nie reg gevoel het nie”. In die meeste gevalle was hulle reg. Dwaling word dikwels so slim en geslepe aangebied, dat die afwykings dikwels nie duidelik sigbaar is nie. Tog behoort ‘n ongemaklike gevoel omtrent die boodskap daartoe te lei dat die boodskap nagegaan en getoets word.

Dit is maklik om te oorreageer op die uiterstes van die mistiese en die gevoelsgodsdienste en om alles te verwerp wat nie wit op swart uiteengesit is nie. Maar Jesus het belowe dat “… wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh 14:26). Paulus skryf: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God” (Rom 8:14). Luister na Hom. Hy sal jou dikwels waarsku dat daar gevaar is en dat jy nodig het om verder te soek en die saak na te gaan.

Die tweede kontrole maatreël is om die vraag te vra: “Stem dit ooreen met wat in die Skrif vervat is?” Let op dat die vraag nie is of die skrywer of spreker ‘n vers aangehaal het nie. Die vraag is of dit wat gesê word, ooreenstem met die algemene lering van die Bybel. Dit is maklik om ‘n dwaling te regverdig deur geïsoleerde verse te gebruik wat buite konteks aangehaal is.

Vervolgens vra ons dan die vraag: “Wat leer die Bybel ons omtrent hierdie saak?” Jy sal verbaas wees hoeveel jy kan uitvind deur doodeenvoudig ‘n konkordansie te gebruik. Die eerste keer toe ek gehoor het dat mense soos honde in die kerk geblaf het en dat hulle dit ‘n “seëning van God” genoem het, het ek onmiddellik elke vers wat van ‘hond’ en ‘blaf’ melding maak, opgesoek. Daardie oppervlakkige studie het aan my getoon dat elke verwysing in die Bybel na ‘hond’, simbolies is van die bose, demone en iets wat vuil is. Indien die duiwel dan in die Bybel as ‘n hond uitgebeeld word (Ps 22:17; 21), hoe kan ‘n geblaf dan ‘n openbaring van die Heilige Gees wees?

Die vierde vraag is of hierdie lering nuut is en of dit verteenwoordigend is van dit wat nog altyd in die kerk geglo is. Wanneer ‘n TV-evangelis sou beweer dat God uit nege dele bestaan, moet ons dit onmiddellik erken as teenstrydig met die algemeen erkende leerstelling van die Drie-Eenheid van God. Sommige nuwe leringe is nie so duidelik soos hierdie een nie, maar die punt is: hulle is nuut.

Dit is natuurlik voor die hand liggend dat bogenoemde veronderstel dat jy kennis het van die basiese leerstellings van die geloof. Dit is egter die probleem. Meeste Christene ken nie die fundamentele beginsels van die geloof nie en “[m]y volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” (Hos 4:6 OAV). As jy nie instaat is om die fundamentele beginsels van die Christelike geloof op te noem en te beskryf nie, dan verkeer jy in gevaar.

Ek vra nie van jou om ‘n teoloog te wees nie, net soos jy nie nodig het om ‘n graad in aptekerswese te hê om te weet dat proteïene voedsel is terwyl arseen gif is nie. Jy moet kennis hê van die basiese beginsels anders gaan jy die grootste klomp leuens insluk en mislei word. Wanneer iemand ‘n lering voorhou wat die basiese beginsels van die geloof weerspreek, het jy nodig om baie versigtig te wees. Gaan dit weer na. Het jy hom reg verstaan? Het hy homself net verkeerd uitgedruk of glo hy werklik dit wat jy hom hoor sê het? Ons stem nie almal saam oor elke detail van die geloof nie, maar daar is sekere nie-onderhandelbare leerstellings wat doodeenvoudig nie oop is vir bespreking nie en jy moet weet wat hulle is.

Die vyfde vraag is of die argument tekortskiet aan logika. Ons geloof is logies en rasioneel en wanneer predikers irrasionele en onbewese aansprake maak, moet dit bevraagteken word. Daar is baie wyses waarop predikers en skrywers die eenvoudige reëls van logika verbreek. Hier is ‘n voorbeeld van ‘n “tegniek” wat dikwels gebruik word: As “A” gelyk is aan “B”, dan is “C” gelyk aan “D”. Nee! Die eerste gedeelte van die stelling het niks te doen met die laaste gedeelte nie. Moenie mislei word deur ‘n lang lys van goed wat opgenoem word wat niks te doen het met die gevolgtrekking nie. Hier is ‘n werklike voorbeeld. God het Abraham met materiële besittings en rykdom geseën; God het Isak ryk gemaak; God het Jakob ryk gemaak; daarom sal God jou ryk maak in materiële besittings. Verkeerd. Daar is geen direkte verband tussen jou en die aartsvaders en hulle materiële seëninge nie – selfs al is daar baie wat so beweer.

Die sesde vraag is of daar enige getuienis van oneerlikheid is. Hanteer die skrywer die materiaal en getuienis eerlik of ignoreer hy die verse wat sy punt weerspreek? Haal hy slegs daardie verse aan wat sy punt bewys en sy idee ondersteun? Verander hy blatant aan woorde of hulle betekenis? Soek hy sorgvuldig deur die vertalings totdat hy een vind wat sy idee sal ondersteun en bevestig? Of maak hy ooglopende foute omtrent feitelike getuienis. Onthou, as hy jou in die klein dingetjies kan mislei, kan hy ook in die belangrike dinge aan jou leuens vertel – moet hom nie vertrou nie (Gal 2:24). Ek het jou so pas uitgevang. Daar is nie ‘n Galasiërs 2:24 nie! Jy sal verbaas wees hoe dikwels predikers en skrywers verse sal aanhaal wat absoluut niks met die onderwerp te doen het nie. Hulle doen dit omdat hulle weet dat hulle gehoor liggelowig is en dat hulle nie eens hulle Bybels sal oopmaak om seker te maak nie.

In die volgende gedeelte sal ek die vrae hanteer wat jy omtrent die skrywer of die spreker moet vra. Jy moet beide die boodskap en die boodskapper nagaan. Dit gebeur somtyds dat ‘n goeie prediker ‘n foutiewe boodskap bring. In daardie geval moet jy die boodskap verwerp maar nie die prediker nie. Ander kere is dit ‘n slegte prediker wat ‘n goeie boodskap bring. In daardie geval moet beide die boodskap en die boodskapper verwerp word. Die enigste manier hoe jy die verskil sal kan sien is om dit te kontroleer, te toets en nog ‘n keer te toets.